Aliwal North | Aliwal-Noord

Search
Go to content

Main menu

Places of Interest

About Aliwal

Vroeë jare

Toe die eerste Trekboere in 1823 oor die Stormbergspruit getrek en hulle in die omgewing van die Buffelspruit (later Aliwal-Noord) gevestig het, was die wêreld nog woes en leeg. Noordoos-Kaap was nog 'n ware niemandsland weens sy onherbergsaamheid en koue winters. 'n Suidwaartse migrasie van inboorlingstamme is egter teen die middel van die eeu op tou gesit deur stamoorloë sodat die Noordoos-Kaap spoedig binnegedring is deur die Temboes uit die suide en die Mfengoes uit die noorde. Die vestiging van 'n dorp by die strategiese samevloei van die Oranje- en Kraairivere om orde te skep in hierdie afgeleë grensgebied is daarom sterk aanbeveel by die Britse regering deur die Siviele Kommissaris op Burgersdorp, mnr. J.C. Chase. Na dringende versoeke van die Trekboere is die oosgrens in 1848 uitgebrei om die gebied oorkant die Stormbergspruit onder Britse gesag te bring.


Hertzog Brug
Frere Brug
Hertzog Brug Monument

Die Frerebrug
Die brug is in 1881 voltooi en het as padbrug na die Vrystaat gedien tot 1937 toe die Hertzogbrug voltooi is. Voordat die treinbrug oor die Oranje voltooi is, is die treinspoor oor die Frerebrug aangelê en het die brug vir 'n kort tydjie beide as padbrug en treinbrug gedien. Na die voltooiing van die Hertzogbrug en die treinbrug is die historiese ou brug gesloop weens die gevaar wat dit vir die nuwe brug ingehou het. Die brughoof wat na die ou brug gelei het, is egter behou en toon nog die massiewe klipboë wat brûe van daardie tyd gekenmerk het.


Die Tolhuis
Die ou tolhuis van gekapte blokklip is in 1880 gebou deur Alcock en Webster, die bekende kontrakteur en klipwerker van Aliwal-Noord. Dit is as 'n historiese monument verklaar. Die tolhuis was die huis en kantoor van die doeane-beampte by die brug, mnr. William Ramsbottom. Die fooie wat geheg is op koetse, karre, waens en diere asook vir 'n "tolperd" is vandag nog te lees op 'n steen voor die tolhuis. In die Boere-oorlog is dit as militêre wagpos gebruik, maar nà Uniewording is die tolhuis gesluit toe doeane afgeskaf is.


Die Tolhuis
Die Kerkplein Museum

Die Kerkplein Museum
Die eerste N.G. Kerk was gehuisves in 'n rietdakgebou in Kerkstraat voordat Kerkstraat 'n deurloop-straat na Somersetstraat gemaak is. In 1864 is die sierlike ou N.G. Kerk oorkant die destydse markplein in gebruik geneem. In 1885 is 'n nuwe kerkklok en horlosie in die toring geïnstalleer. Die kerkorrel is in 1889 in gebruik geneem. Wyle Staatspresident C.R. Swart is in 1895 in dié kerk gedoop. Sedert 1925, toe die nuwe N.G. Kerk gebou is, is die gebou as bioskoop, stoor, marksaal en selfs danssaal gebruik, totdat dit in 1987 in die Kerkplein Museum omskep is.


Die ou Landdroskantoor en Poskantoor
Hierdie ou sandsteen-gebou wat in 1896 opgerig is as Magistraatskantoor en Poskantoor, is die mees historiese gebou in die dorp. Daar is die rebelle met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog opgekommandeer en daar het hulle wapen kom neerlê. Daar is hulle verhoor, ontkieser, tronk toe gestuur en ter dood veroordeel. Dié gebou was die hoofkwartier van die Boere se besettingsmagte en later van die Britte.Nadat die nuwe landdroskantoor gebou is, het die gebou slegs as poskantoor gedien en toe die nuwe poskantoor in 1979 ingewy is, het die Stadsraad die gebou verkoop. Pogings om dit tot nasionale monument verklaar te kry, het misluk.


Die ou Landdroskantoor en Poskantoor
Die ou Landdroskantoor en Poskantoor
De Wet-Huis en Pioniersmunument

De Wet-Huis en Pioniersmonument
Pieter Jacobus de Wet van Brandvlei naby Worcester, was die eerste intrekker. Hy en sy vrou, Hester Jacoba (nee Theron) van Tulbagh, het in 1828 hul hartbeeshuisie op die rantjie bokant die huidige Aliwal Spa gebou. 'n Nabootsing van die hartbeeshuisie is in die Kerkplein Museum gebou. 'n Oorspronklike moddersooi van 'n hartbeeshuis is in die muur ingebou. Toe die dorpsgebied in 1849 deur Sir Harry Smith geproklameer is, is Pieter De Wet se verblyfreg op Buffelsvlei erken deur 8 000 akker grond asook 'n servituut op 'n agste gedeelte van die Bronnewater aan sy weduwee toe te ken. Die fondamente van die watermeul wat De Wet op die leivoor uit die Bronnewater opgerig het, is vandag nog te sien. Die huidige opstal wat in 1889 deur Pieter se jongste seun David gebou is, is in 1970 deur familietrust in bewaring geneem en in 'n De Wet-museum omskep. Die museum het later met die Aliwal Museum amalgameer en die meeste van die inhoud word tans in die Kerkplein Museum ten toon gestel. Naby die opstal is die familie-begraafplaas waarin van die De Wet-voorsate begrawe en herbegrawe is. In 1928, 'n eeu na die aankoms van Pieter de Wet, het die nageslag 'n monument in die begraafplaas opgerig. Die begraafplaas bied 'n pragtige uitsig oor Buffels Vallei, die oorspronklike De Wet-plaas waarop Aliwal-Noord en die Bronne-kompleks aangelê is.


 

Aliwal Museum
Die museum is gesetel in die ou Aliwal Biblioteek wat in 1876 opgerig is en waar die bekende paleontoloog, Alfred (Gogga) Brown, bibliotekaris tot ná die Boereoorlog was. Die museum het 'n merkwaardige versameling foto's wat die ou geskiedenis van die dorp en die Bronne uitbeeld.Daar is uitstallings van 'n ou apteek, kombuisartikels, outydse kleredrag en seep. Daar is 'n paleontologie- en fossieluitstalling van Alfred Brown en Boet du Plooy. Die Museum het 'n argief waarin al Aliwal se koerante sedert 1897 bewaar word asook talle geskiedkundige geskrifte oor Aliwal se geskiedenis en veral oor die Anglo-Boereoorlog. 'n Groot deel van die museum se inkomste word verkry uit verkope van kruie wat gekweek word in die museum se bekende kruietuin in die museum se agterplaas. Die museum ontvang geen staatshulp nie.


Aliwal Museum
Die "Central Building"
Die "Central Building"

Die "Central Building"
Die gebou regoor die ou Landdroskantoor waarin die Doran's Apteek vandag gehuisves is, staan op die perseel wat in 1865 aan Godlieb Christiaan de Wet behoort het. In 1904 is die huidige gebou deur mnr. Surtee opgerig met materiaal wat meestal uit Engeland, Skotland en Amerika ingevoer is. Die onderste deel is as 'n winkelkompleks ingerig en die boonste vloer as 'n woongedeelte en later as kantore.Weens die besondere argitektoniese eienskappe van die stoep is hierdie gebou se voorkant nie afgebreek toe Somersetstraat verbreed is nie.


 
 

Die Eldré Apteek-gebou
Die Eldré Apteek dateer uit 1890 en die gebou se sierlike gewels met kruike is 'n voorbeeld van die styl van daardie tyd.


OORLOGSMONUMENTE

Konsentrasiekamp-Gedenktuin

Die monument is in 1980 opgerig om die 720 mans, vroue en kinders te gedenk wat in die konsentrasiekamp omgekom het. Die oorskot van die oorledenes is in 'n massagraf herbegrawe en die oorspronklike grafstene is in 'n gedenkmuur in die munument ingemessel. Hul name asook die name van vyf burgers wat in die kamp begrawe was, word op 'n ererol vermeld.


Konsentrasiekamp Gedenktuin
Konsentrasiekamp-Gedenktuin
Konsentrasiekamp-Begraafplaas

Konsentrasiekamp-Begraafplaas
Gedenkstene is opgerig op die oorsponklike twee begraafplase van die konsentrasiekamp (foto) langs die Kraairivier. In die drie kampe vir Smithfield, Zastron en Rouxville is bykans 3000 vroue en kinders gedurende die Anglo-Boereoorlog aangehou. Die grafte is in 1980 opgegrawe en die oorskot in 'n massagraf in die Konsentrasiekamp-Gedenktuin herbegrawe. (sien 2 foto's - Gedenktuin bo)


 

Die "Garden of Remembrance"

In 1975 is alle Britse soldate wat in die Munisipale begraafplaas van Aliwal-Noord begrawe was asook dié wat in die distrikte van Aliwal-Noord, Rouxville en Zastron begrawe was, opgegrawe en in 'n tuin van herinnering herbegrawe. Die meeste is in individuele grafte herbegrawe en slegs 'n paar in 'n gesamentlike graf. Die name van 138 Britse en Koloniale soldate word op die hoofmonument vermeld.Bron: Aliwal Museum (150 Jaar)


"Garden of Remembrance"
"Garden of Remembrance"

Bron: Aliwal Museum (150 Jaar)

Aliwal Museum - Members of the Museums Committee:
Mrs. L. Gerrand - Cell 083 307 1321
Ms Madeleine Joubert - Tel. 051 634 1910

 
Back to content | Back to main menu